• 034 328 1300
  • gerrit@dbmlaw.com
  • Monday to Thursday 08:00 - 16:30 | Fridays 08:00 - 16:00
www.dbmlaw.com
 
 

News & Resources

 
 
 
 
 
 
 
 
 
Kan ‘n kontrak regtens deur die stuur van ‘n epos gekanselleer word?
16 March 2015
 

Met die spoedige ontwikkeling van tegnologie moet enige besigheidsman deesdae nie net op hoogte bly van tegnologiese verwikkelinge nie maar ook met verwikkelinge in die reg. In die hedendaagse lewe word ooreenkomste gereguleer deur kontrakte wat geteken word deur al die partye. Dit bring na vore die vraag of digitale kommunikasie relevant is vir ons kontraktereg en selfs meer spesifiek, of ‘n party byvoorbeeld ‘n ooreenkoms regmatig kan kanselleer deur die stuur van ‘n epos?

In die Suid-Afrikaanse reg is daar in die saak van SA Sentrale Ko-op Graanmaatskappy Bpk v Shifren & Andere ‘n belangrike beginsel neergelê naamlik, dat waar ‘n kontrak ‘n geen-wysiging klousule bevat wat vereis dat enige wysigings slegs geldig sal wees indien dit op skrif en deur beide die partye onderteken is, enige mondelinge wysigings deur die partye sal uitsluit ten einde te verhoed dat partye mondelinge veranderinge aan kontrakte bring, wat moeilik bewysbaar en afdwingbaar is.

Die onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appél in Spring Forest Trading 599 CC v Wilberry (Pty) Ltd t/a Ecowash & Andere het ‘n belangrike impak gehad op die relevansie van digitale kommunikasie deur epos en ons kontraktereg. Die kontrak in hierdie saak het ‘n standaard “geen-wysiging” klousule bevat. Albei partye het per epos ooreengekom om die kontrak te kanselleer, wat die vraag laat onstaan het of die kansellasie van die kontrak deur middel van epos geldig was al dan nie.

Voor ons verder gaan, moet daar na die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies 25 van 2002 (“die Wet”) gekyk word om te bepaal wat erken word as geldige handtekening. Artikel 13 van die Wet bepaal as volg

“(1) Waar die handtekening van 'n persoon regtens vereis word en die regsreël spesifiseer nie die tipe handtekening nie, word aan daardie vereiste met betrekking tot 'n databoodskap voldoen slegs indien 'n gevorderde elektroniese handtekening gebruik word.
(3)  Waar 'n elektroniese handtekening vereis word deur die partye tot 'n elektroniese transaksie en die partye nie ooreengekom het op die tipe elektroniese handtekening wat gebruik moet word nie, word aan hierdie vereiste voldoen ten opsigte van 'n databoodskap indien-
(a) 'n metode gebruik word om die persoon te identifiseer en die persoon se goedkeuring aan te dui van die inligting wat gekommunikeer is; en
(b) in die lig van al die toepaslike omstandighede ten tyde van die gebruik van die metode, die metode so betroubaar was as wat geskik was vir die doeleindes waarvoor die inligting gekommunikeer is.”

Volgens die hof word daar in Artikel 13 van die Wet ‘n onderskeid getref tussen gevalle waar ‘n wet ‘n handtekening vereis naamlik ‘n ‘gevorderde elektroniese handtekening’ en waar die partye self ooreenkom op ‘n addisionele vereiste handtekening naamlik ‘n ‘elektroniese handtekening’. Die hof het die argument verwerp dat ‘n ‘gevorderde elektroniese handtekening’ vereis was in hierdie saak aangesien die vereiste handtekening wat ooreengekom was tussen die partye bloot ‘n formaliteit was en nie vereis was deur ‘n wet nie.

Die hof moes verder oorweeg of die name onderaan die e-posse voldoen het aan Artikel 13(3) van die Wet en dus ‘n genoegsame elektroniese handtekening daargestel het.

Wat ‘n handtekening betref, moet daar gekyk word na hoe die Hof ‘n handtekening interpreteer. In die algemeen word ‘n handtekening verstaan as ‘n persoon se naam wat op ‘n unieke manier geskryf word as `n vorm van identifikasie. Voor die dae van elektronies kommunikasie het die howe enige merk wat gemaak was deur die persoon wat gemagtig was om so merk te maak, aanvaar as ‘n geldige handtekening. Die howe het dus eerder gekyk of die manier van teken wat gebruik is die doel gedien het van ondertekening, naamlik om die identiteit van die ondertekenaar te bevestig, eerder as die vorm van die handtekening wat gebruik is.

In die Wet word ‘elektroniese handtekening' omskryf as ‘data wat aangeheg of geïnkorporeer word by, of logies geassosieer word met ander data en wat deur die gebruiker bedoel is om as 'n handtekening te dien’. Die Hof het bevind dat indien die data wat vervat word in die epos bedoel was deur die persoon wat dit gestuur het om te dien as ‘n handtekening en dit gekoppel word aan die inligting in die epos, dit voldoende is om te kwalifiseer as ‘n “elektroniese handtekening”. Die Hof het verder bevind dat die uitruil van eposse deur albei partye, met hulle name onderaan, genoegsaam was om te voldoen aan Artikel 13(3) van die Wet en kan ‘n kontrak wel geldig deur ‘n epos gekanselleer word.

Gesiene die gevolge van hierdie uitspraak, is dit belangrik dat partye kennis moet neem van die gevolge van elektroniese kommunikasie by kontraktering en, waar nodig, of die gebruik van digitale mediums pertinent ingesluit of uitgesluit moet word afhangend van hulle spesifieke behoeftes. Indien nodig roep eerder die hulp in van ‘n kommersiële spesialis in om seker te maak oor die hantering van elektroniese kommunikasie in jou dag-tot-dag besigheidskontraktering.

 
 
 
Related Services:
 
 
Tags: Contract