• 034 328 1300
  • gerrit@dbmlaw.com
  • Monday to Thursday 08:00 - 16:30 Fridays 08:00 - 16:00
www.dbmlaw.com
 
 

News & Resources

 
 
 
 
 
 
 
 
 
Paniek en onsekerheid vir landbouers oor hul water
30 September 2013
 

Grootskaalse paniek en onsekerheid heers tans in die gemoed van watergebruikers in die landbougemeenskap. Die inwerkingtreding van die Nasionale Waterwet (“Wet”) in 1998 het ‘n nuwe era ingelei vir watergebruik in Suid-Afrika en baie landbouers voel dat die Wet hul voortbestaan as landbouers bedreig. Die onsekerheid en paniek wat heers in die landbougemeenskap mag tweeledig van aard wees, naamlik algemene onkunde in die landbougemeenskap in die letter van die Wet en bevraagtekenbare optrede deur die Departement van Waterwese (“Departement”). Hierdie artikel poog om bietjie lig te werp op die belangrikste brandpunte waaroor onkunde heers en gebeure waarvoor die Departement ‘n geelkaart behoort te kry.

Die verifikasieprosedure

Die Departement is tans besig met ‘n verifikasieprosedure om die wettigheid van watergebruik vas te stel. Die Wet het ‘n historiese afsnypunt geskep vir die bepaling van die wettigheid van watergebruik. In kort is bepaal dat die bogrondse watergebruik bepaal word binne ‘n twee jaar periode tussen 1 Oktober 1997 en 30 September 1999. Hierdie periode staan bekend as die kwalifiserende periode en daar word basies vandag teruggekyk na wat in hierdie periode gebeur het om die tans geldende wettigheid van watergebruik te bepaal. Die Departement is besig om watergebruikers te kontak om die omvang van die gebruik te bevestig en wettigheid vas te stel. Landbouers het baie vrae oor hoe hierdie gebruik bepaal word en wat hulle regte is as die Departement hulle huidige gebruik beperk.

Watergebruiksertifikaat

Die Watergebruiksertifikaat (“Water Use Certificate”) is baie keer die groot sondebok in dispute met die Departement aangesien baie landbouers glo hierdie sertifikaat is die “titelakte” van hul watergebruik. In werklikheid beteken hierdie sertifikaat niks as dit kom by die bepaling van die wettigheid van watergebruik nie. Die Departement het vanaf omtrent ‘n dekade gelede watergebruikers begin uitnooi om hul gebruik deur te gee om onder andere die Departement instaat te stel om ‘n growwe indikasie te kry van die volumes van gebruik en welke gewasse verbou word. Die Departement het daarna ‘n sertifikaat aan elkeen uitgereik wat bloot die kommunikasie aan die Departement uiteensit. Onderaan elkeen van hierdie sertifikate word dit duidelik gestel dat die sertifikaat nie die wettigheid van watergebruik bepaal nie.

Beperking op termyn van gebruik

Histories was daar geen beperking op die termyn van watergebruik nie en watergebruiksregte is basies gesien as ‘n ewigdurende reg wat aan die eiendom gekoppel het. Die Wet het ‘n einde gebring aan hierdie ewigdurende gebruik en beperk nou lisensies wat uitgereik word tot ‘n maksimum termyn van 40 jaar. Wat ook nou gereeld gebeur is dat die termyn van gebruik by die uitreiking van ‘n nuwe lisensie na die oordrag van ‘n watergebruiksreg beperk word tot ‘n termyn van 10 jaar. Landbouers moet gereeld appèl aanteken teen hierdie lisensies aangesien dit glad nie moontlik is om ontwikkeling te doen op sulke beperkte termyne nie.

Klem op bemagtiging

Die Departement is onlangs oor die vingers getik deur die Hof in Makhanya NO v Goede Wellington Boerdery (Pty) Ltd & Another waar die Departement bemagtiging ‘n voorvereiste gemaak het vir die toestaan van ‘n lisensie. Die Hof het bevind dat bemagtiging slegs een van die faktore is wat inaggeneem moet word by die toestaan van lisensies. Tog wil dit voorkom asof, ten spyte van hierdie uitspraak, bemagtiging steeds baie sterk deur die Departement oorweeg word by die toetstaan van lisensies.

Watertribunaal staak werking

Die Watertribunaal is geskep deur die Wet om appelle teen beslissings van die Departement aan te hoor en om verkeerde optrede deur die Departement reg te stel. Die funksionering van die Tribunaal is al sedert middel 2012 opgeskort weens die bedanking van die voorsittende beampte en sedertdien is geen gepaste plaasvervanger nog aangestel nie. Dit blyk nou dat die Wetgewer in proses is om die Wet te wysig om hierdie probleem aan te spreek. Intussen sloer appelle na die Tribunaal en is daar na bewering ‘n menigte appelle wat stilstaan.

Dit is duidelik uit die bogenoemde dat die pad van ‘n watergebruiker op die oomblik nie maklik begaanbaar is nie en dat daar heelwat slaggate bestaan. Dit is egter belangrik dat watergebruikers staan op die regte wat hulle wel het en gebruikmaak van die Wet se beskerming. Die Wet gee watergebruikers die reg om in toepaslike omstandighede hulself te beroep op mediasie, arbitrasie, die Watertribunaal en uiteindelik die Hof om hul belange te beskerm. Dit is ook belangrik dat landbouers hulself soveel moontlik op hoogte bring met die bepalings en prosedures wat deur die Wet geskep is om te verseker dat hul proaktief optree as hul waterregte bedreig word.