Waar om te begin met ‘n nuwe besigheid?

25 April 2013 443

Louis droom al jare daarvan om sy eie besigheid te begin, maar kon nog nooit die geskikte perseel kry om hierdie stap te neem nie. Nou is daar ‘n winkel perseel beskikbaar met die ideale ligging en Louis se droom begin na ‘n realiteit lyk. Louis se finansies is reg en hy het ook ‘n moontlike vennoot geïdentifiseer om saam die besigheid mee te begin. Die tyd is reg, maar Louis krap nog kop oor waar om te begin en wat regtens gesproke alles gedoen moet word om die besigheid af te skop. Kom ons gaan kyk wat sy hoofverpligtinge sal wees.

Eerstens, moet Louis verstaan dat om ‘n besigheid te bedryf nie speletjies is nie en dat hy ‘n behoorlike besigheidsplan moet ontwikkel in terme waarvan hy die besigheid sal aanpak. ‘n Besigheidsplan sal ook baie belangrik wees indien hy wil aansoek doen om finansiering of selfs ‘n vennoot wil intrek by die besigheid. Dit sluit verder in dat hy sekerheid moet kry rakende die inhoud van die huurkontrak vir die perseel en of opsies vir hernuwing beskikbaar is. ‘n Bankrekening is noodsaaklik vir die dryf van `n besigheid en Louis sal `n rekening moet oopmaak sodra hy ‘n besluit oor die aard van die besigheidsentiteit gemaak het.

Volgende moet daar ondersoek ingestel word of daar enige lisensies of permitte benodig word vir die dryf van sy besigheid. Sekere tipes besighede wat verband hou met byvoorbeeld die verkoop van drank, kos, gesondheidsorg, vars produkte, dobbel ens. benodig ‘n lisensie om wettiglik te mag handel dryf. Dis belangrik dat hierdie vereistes vroeg geïdentifiseer word en die nodige aansoeke ingedien word aangesien geen handel sonder sodanige lisensie(s) gedryf kan word nie.

Louis moet ook besin oor die tipe entiteit waardeur hy die besigheid gaan bedryf. Daar is verskillende opsies beskikbaar en sy keuse kan belangrike gevolge vir homself en sy besigheid inhou. Die mees algemene besigheidsopsies vir Louis om te oorweeg is die volgende:

Eenmansaak (1 eienaar)

Hierdie opsie, soos die naam aandui, mag relevant wees waar Louis gaan handel dryf in sy eie naam. Hy kan steeds ‘n besigheidsnaam gebruik, maar die besigheid vestig in Louis as persoon en nie in ‘n aparte regsentiteit nie. Hierdie is die eenvoudigste vorm van ‘n besigheid en benodig weinig om van die grond af te kom. Die inkomste van ‘n eenmansaak word as die persoonlike inkomste van die besigheidseienaar geag en die eienaar word in sy persoonlike naam belas. Die grootste risiko by hierdie vorm van besigheid is die feit dat indien die besigheid sou faal die besigheidseienaar volle aanspreeklikheid vir die besigheid se laste sal dra en kan die krediteure beslag lê op die persoonlike bates van die eienaar. Hierdie besigheidsvorm kan ook nie verdere vennote insluit nie maar werknemers kan wel aangestel word. Opsies vir finansiering sal ook afhang van die omvang waarvoor die eienaar persoonlik sal kwalifiseer.

Vennootskap (2 – 20 vennote)

‘n Vennootskap onstaan waar 2 of meer vennote (tot maksimum van 20) saamspan om handel te dryf of ‘n besigheid of professie te beoefen. Alhoewel die vennootskap dikwels hanteer word asof dit ‘n aparte entiteit is, is dit in wese nie ‘n aparte regspersoon nie en word elke vennoot in sy eie naam belas vir sy gedeelte van die vennootskap se winste. ‘n Vennootskap kan maklik tot stand gebring word en ‘n vennootskapsooreenkoms kan opgestel word om die verhouding tussen die vennote en elkeen se bydrae tot die vennootskap te reël. Omdat daar meer as een vennoot is, kan hierdie vorm van besigheid finansieel sterker wees as die eenmansaak en die kragte van verskeie vennote kombineer om ‘n sukses te maak van die besigheid. Tog bly elke vennoot aanspreeklik vir die verpligtinge van die besigheid en kan die ondeurdagte optrede van een vennoot rampspoedige gevolge vir elke vennoot inhou. Hierdie vorm van besigheid word dikwels aangetref by professionele professies soos prokureurs, argitekte ens.

‘n Privaat maatskappy

‘n Privaat maakskappy word beskou as ‘n aparte regsentiteit wat bestaan onafhanklik van sy lede en sy regte en verpligtinge is sy eie. Die entiteit word ook as ‘n aparte belastingpligtige hanteer. Die eienaars van ‘n privaat maatskappy is sy aandeelhouers en die maatskappy word deur sy direkteure bestuur. Die aandeelhouers hoef nie, maar kan ook die direkteure (bestuurders) van die besigheid wees. Voordele van die privaat maatskappy sluit onder andere in die beperkte aanspreeklikheid van die aandeelhouers ten opsigte van die verpligtinge van die maatskappy asook die kontinuïteit en eenvoudige wyse van oordrag van die besigheid aangesien dit nie gekoppel word aan die eienaars nie maar aan die entiteit self. Die oprigting, bestuur en funksionering van die maatskappy word gereël deur die die Wet op Maatskappye van 2008 wat die bestuur van hierdie entiteitsvorm meer kompleks en duurder kan maak as die ander hierbo genoem.

Die besluit oor die mees toepaslike tipe besigheidstruktuur is een van die besluite wat nie sonder regs- en selfs belastingadvies geneem moet word nie. Verdere implikasies rondom die aantal lede, finansiering, administrasie koste, besigheidskontinuïteit en insolvensie is ook aspekte wat bespreek moet word in die aanloop tot jou besluit. 

Nadat Louis die toepaslike entiteit vir sy nuwe besigheid gekies het moet hy ook kyk na die volgende belastingverpligtinge (dit mag wissel afhangend van die tipe entiteit):

  • Registreer by die Ontvanger van Inkomste vir die betaal van inkomstebelasting, werknemersbelasting en ook vaardigheidsontwikkelingsheffings ten opsigte van sy werknemers.
  • Indien hy verwag dat sy omset waarskynlik R1 miljoen per jaar gaan oorskry, word hy verplig om vir BTW te registreer. ‘n Persoon kan ook vrywillig vir BTW registreer indien hy verwag dat sy omset meer as R50 000 maar minder as R1 000 000 per maand gaan wees.

Louis se besigheid mag selfs kwalifiseer vir sekere van die belastingvoordele wat die Ontvanger daarstel vir klein besighede en ‘n deeglike ondersoek na sy belastingverpligtinge is dus die moeite werd.

Werknemers is ‘n belangrike bate vir enige besigheid. Indien Louis dus werknemers gaan aanstel is dit nie net belangrik om vir hulle ‘n veilige werksomgewing te skep nie, maar ook om voorsiening te maak vir enige ongelukke of beserings wat mag plaasvind in die loop van hul werksverrigtinge. Gevolglik is dit belangrik dat Louis by die Beroepsbeserings en Vegoedingsfonds (“Fonds”) registreer, sodat sy werknemers beskerming kan geniet in die geval van enige beserings aan diens. Die eienaar is regtens verplig om, ongeag die grootte van ‘n besigheid, te registreer en om jaarlikse fooie aan die Fonds te betaal.

Louis moet ook by die Werkloosheidsversekeringsfonds (“WVF”) registreer. Indien ‘n werknemer ontslaan word of as gevolg van swangerskap of siekte nie daartoe instaat is om sy werksverpligtinge uit te voer nie, dien die WVF as ‘n tydelike toevlug vir werknemers. Alle werknemers wat meer as 24 uur per maand werk moet tot die WVF bydra. Werknemers en hul werkgewers betaal onderskeidelik elkeen 1% van die waarde van die werknemer se salaris aan die WVF. Dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om die werknemers se bydra aan die WVF van sy salaris af te trek en dit aan die WVF te oor te betaal. 

Louis is verder verplig om dienskontrakte vir al sy werknemers op te stel wat die terme en voorwaardes van hul aanstelling duidelik uiteensit. Louis sal maandeliks salarisstrokies aan sy werknemers moet verskaf en sorg dat enige aftrekkings van hul salarisse reg hanteer word.

Noudat Louis sy entiteitsvorm gekies, sy registrasie verpligtinge nagekom en sy werknemers uitsorteer het, moet hy kyk na die bemarking van sy besigheid. Deur ‘n kenteken te laat ontwerp wat uniek gaan wees en sy besigheid gaan differensieer, voel Louis dat hy dadelik ‘n impak in die mark sal maak. Louis kan dus oorweging skenk of hy sy kenteken en besigheidsnaam as ‘n handelsmerk wil registreer om sodoende sy handelsnaam te beskerm en selfs ook gereed staan indien hy die besigheid moontlik later wil ‘franchise’.

Die bogenoemde neem in ‘n neutedop saam van die kernpunte wat in ag geneem moet word om ‘n klein besigheid te begin. Dit kan ‘n komplekse proses wees met gepaardgaande kostes, maar dis belangrik dat die regte stappe gevolg word om latere komplikasies te vermy. Raadpleeg ‘n kundige vir advies en sorg dat jy voorbereid is met die regte advies voordat jy jou nuwe besigheid begin.

Share: